Akademie

Diligenter Akademie Lyttelton is geregistreer by die Departement van Onderwys as ’n Privaat Afrikaanse Laerskool.

Ons volg die KABV-kurrikulum (CAPS).

Ons doelwit is dat elke leerder veilig in hul leeromgewing voel. Ons koester goeie verhoudings met ons ouers en ons poog om altyd in ’n span saam te werk: personeel, ouer en leerder.

Ons poog dat elke leerder positiewe groei sal toon wat goeie selfvertroue en selfbeeld bevorder sodat optimale akademiese groei/prestasie sal plaasvind. By ons skool leef ons, ons Christenskap onbeskaamd uit.

Openingsgeleenthede vind daagliks plaas en soms in die pragtige NG Lyttelton kerkgebou.

Ons glo daarin om leer lewendig en betekenisvol te maak. Daarom word instappies en uitstappies noukeurig beplan as waardevolle uitbreidings van die klaskamer – dit bied leerders die geleentheid om hul wêreld te verken, nuwe ervarings op te doen en leer in aksie te sien. Spesiale verrykingsdae, soos ons gewilde Wiskundedag, sorg vir opwinding en energie op die terrein. Op hierdie dae word konsepte op kreatiewe en interaktiewe metodes aangebied, sodat leerders deur speletjies, uitdagings en spanaktiwiteite op ’n prettige manier leer sonder om dit eers agter te kom!

Ons is ook bewus daarvan dat elke leerder uniek is, met hul eie behoeftes en sterkpunte. Daarom ondersteun ons gesinne aktief wanneer daar aansoek gedoen moet word vir akkommodasies by die Departement van Onderwys – byvoorbeeld ekstra tyd, ’n voorleser of ander aanpassings tydens assesserings. 

Hier help ons leerders met:

  • Individuele aandag (Karakter/skoolwerk)
  • Sosiale uitdagings
  • Leeruitdagings
  • Angstigheid
  • Selfvertroue/selfbeeldvordering
  • Aanleer van waardes
  • Onafhanklike optrede
  • Ontwikkeling van leierseienskappe